Bohuslav Martinů - Wikipedia
- ️Mon Dec 08 1890
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
Bohuslav Martinů | |
---|---|
![]() Bohuslav Martinů in New York Stad, 1945 | |
Gebore | 8 Desember 1890 Polička, Oostenryk-Hongarye |
Sterf | 28 Augustus 1959 (op 68) Liestal, Switserland |
Bohuslav Jan Martinů (Tsjeggies: [ˈboɦuslaf ˈmarcɪnuː]; 8 Desember 1890 – 28 Augustus 1959) was 'n Tsjeggiese komponis van moderne klassieke musiek. Martinů het 6 simfonieë, 15 operas, 14 balletstukke en 'n groot hoeveelheid orkestrale-, kamermusiek-, instrumentale stukke en stukke vir stem geskryf. [1]
Hy het 'n violis geword in die Tsjeggiese Filharmoniese Orkes en musiek in sy tuisstad onderrig. Nadat hy in 1923 Tsjeggo-Slowakye verlaat het vir Parys het Martinů hom doelbewus onttrek van die Romantiese styl waarin hy opgelei is. In die 1930's het hy geëksperimenteer met ekspressionisme en konstruktivisme en 'n bewonderaar geword van wat op daardie tydstip kontemporêre Europese tegniese ontwikkelings was, wat veral ten toon gestel word deur sy orkestrale werke soos "Half-time" en "La Bagarre". Hy het ook jazzidiome aangeneem, soos byvoorbeeld in sy "La revue de cuisine".
In die vroeë 1930's het hy die hoofbron gevind van sy komposisionele styl, die neo-klassisisme soos ontwikkel deur Igor Strawinski. Hy het begin om teen 'n ysingwekkende spoed te begin komponeer, en het vinnig kamer-, orkestrale-, koor- en instrumentale werke gekomponeer.
Sy gebruik van die klavier-obbligato het sy kenmerkende eienskap geword. Sy Concerto Grosso en die Dubbelkonsert vir Twee Strykorkeste, Klavier en Timpani is van sy bekendste werke uit hierdie tydperk. Wat sy operas betref, word "Julietta" en die "Die Griekse Passie" beskou as die beste.
Hy is vergelyk met Sergei Prokofiëf en Béla Bartók wat betref die innoverende daarstelling van Sentraal-Europese etno-musikologie in sy musiek. Hy het voortgegaan om regdeur sy oeuvre van Boheemse en Morawiese volksmelodieë gebruik te maak, gewoonlik in kleuterrympies - byvoorbeeld in sy "Otvírání studánek".
Sy simfoniese loopbaan het in 1941 begin toe hy van Frankryk geëmigreer het na die VSA. Sy ses simfonieë is uitgevoer deur al die groot orkeste van die VSA. Hy het hy in 1953 teruggekeer om in Europa te woon, maar was spoedig daarna terug in New York, totdat hy in 1956 op permanente grondslag teruggekeer het na Europa. Hy sterf in Augustus 1959 in Switserland.
- ↑ Jan Smaczny, "Martinů, Bohuslav", The New Grove Dictionary of Music and Musicians, 2de uitgawe, geredigeer deur Stanley Sadie en John Tyrrell (Londen: Macmillan Publishers, 2001), vol. 15, p. 939.