Dominica - Wikipedia
in Wikipedia, die vrye ensiklopedie
| ||||
Nasionale leuse: Après Bondie, C'est La Ter[1] (Antilliaanse Kreools) Après le Bon Dieu, c'est la Terre (Frans) (Afrikaans: "Na God volg die Aarde") | ||||
Volkslied: Isle of Beauty, Isle of Splendour (Engels vir: "Eiland van skoonheid, eiland van prag") | ||||
Hoofstad | Roseau | |||
Grootste stad | Roseau | |||
Amptelike tale | Engels | |||
Regering | Unitêre parlementêre grondwetlike republiek Sylvanie Burton Roosevelt Skerrit | |||
Onafhanklikheid • Geassosieerde land |
1 Maart 1967 3 November 1978 | |||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
751[2] km2 (188ste) 290 myl2 1,6 | |||
Bevolking - 2024-skatting - 2011-sensus - Digtheid |
74 661[2] (201ste) 71 293[3] 99 / km2 (95ste) 257 / myl2 | |||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | |||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2025-skatting | |||
MOI (2022) | 0,766[5] (82ste) – hoog | |||
Geldeenheid | Dollar (XCD )
| |||
Tydsone - Somertyd |
AST (UTC-4) nie toegepas nie (UTC-4) | |||
Internet-TLD | .dm | |||
Skakelkode | +1-767 |
Dominica (Engels: [ˌdɒmɪˈniːkə], luister (hulp·inligting); Frans: Dominique), amptelik die Gemenebes Dominica (Engels: Commonwealth of Dominica; Frans: Commonwealth de la Dominique), is 'n eilandstaat in Noord-Amerika met 'n oppervlakte van 751 km² en 'n bevolking van 74 661 in 2024.[2] Dit behoort aan die Klein-Antille.
Dominica is in die oostelike deel van die Karibiese See op die grens met die Atlantiese Oseaan geleë. Dit grens in die noorde aan Guadeloupe en in die suide aan Martinique. Die hoofstad en grootste stad is Roseau.
Dominica is op 3 November 1493 deur Christophorus Columbus tydens sy tweede reis vir Europa ontdek en ná die Latynse woord vir Sondag (dies Dominica – "dag van die Here"), die weeksdag van die ontdekking, genoem. Die Spanjaarde het probeer om op dié eiland te vestig, maar hulle is deur die inheemse bevolking uitgestoot. In 1632 het die Franse Compagnie des Îles de l'Amérique Dominica en ander Petites Antilles vir Frankryk opgeëis, maar eers in 1690 is eerste permanente nedersettings gestig. Franse houtkappers van Martinique en Guadeloupe het in Dominica gevestig en hulle het slawe uit Wes-Afrika na dié eiland gebring. Tydens die Sewejarige Oorlog het die Britte in 1761 Dominica en ander Franse eilande in die Karibiese gebied verower en dié eiland is volgens die Verdrag van Parys in 1763 deur Frankryk aan Groot-Brittanje afgestaan.
Tydens die Amerikaanse Rewolusionêre Oorlog het Frankryk in 1778 met ondersteuning van die inheemse bevolking probeer om Dominica te verower, maar is deur die Britte verslaan en dié oorlog is met die Vrede van Parys in 1783 beëindig. Weens grootskaalse weerstand deur die bevolking kon die Verenigde Koninkryk eers in 1805 met die kolonisering van dié eiland begin en Dominica is by die Britse Ryk ingelyf. In 1833 is slawerny deur die Britte verbied. Tussen 1958 en 1962 het dit saam met ander Britse kolonies in die Karibiese gebied deel uitgemaak van die Wes-Indiese Federasie.
Op 3 November 1978 het Dominica van die Verenigde Koninkryk onafhanklik en 'n republiek binne die Britse Statebond geword. Die eiland is 'n gesogte vakansieplek en die ekonomie is veral op toerisme gebaseer.[2]
Die Kalinago het die eiland Wai‘tu kubuli genoem, wat "groot is haar lyf" beteken.[6]
Christophorus Columbus het die eiland "Dominica" genoem, na die Latynse term dies Dominica vir Sondag, die dag waarop hy die eiland in November 1493 vir Europa ontdek het.[7]
Dominica se naam word uitgespreek met klem op die derde lettergreep,[8][9] na aanleiding van die Spaanse uitspraak.[10]
Die soortgelyke name en die identiese demoniem met die Dominikaanse Republiek het daartoe gelei dat sommige in Dominica vir 'n naamsverandering pleit om sy eie afsonderlike identiteit te beklemtoon.[11]
Krieket is Dominica se gewildste sportsoort en word as nasionale sport beskou. Dominica is een van die eilandstate wat met ander Karibiese state spelers beskikbaar stel vir die Wes-Indiese nasionale krieketspan, een van die "nasionale spanne" in internasionale krieket met toetsstatus. Die Wes-Indiese nasionale krieketspan het aan amper elke krieketwêreldbekertoernooi deelgeneem, die eerste twee toernooie in 1975 en 1979 gewen en slegs die 2023-toernooi misgeloop. Daarbenewens kon hulle die T20I-wêreldbekertoernooi twee keer (in 2012 en 2016), en beide die Kampioenetrofee (in 2004) en die o/19-krieketwêreldbeker (in 2016) eenkeer wen.
- ↑ (en) "Coat of Arms – Government of the Commonwealth of Dominica". Regering van Dominica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Mei 2020. Besoek op 19 Mei 2018.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 (en) "Dominica". Central Intelligence Agency. Besoek op 12 Februarie 2025.
- ↑ (en) "2011 POPULATION AND HOUSING CENSUS" (PDF). Regering van Dominica. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 8 Junie 2019. Besoek op 19 Mei 2018.
- ↑ 4,0 4,1 4,2 4,3 (en) "Dominica". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2024. Besoek op 12 Februarie 2025.
- ↑ (en) "Human Development Report 2023/2024" (PDF). United Nations Development Programme. 13 Maart 2024. Besoek op 12 Februarie 2025.
- ↑ (en) "Discover Dominica: an introduction to our Caribbean island". Dominica.dm. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 September 2010. Besoek op 23 September 2010.
- ↑ (en) "Dominica". Encyclopædia Britannica. Besoek op 3 Oktober 2023.
- ↑ (en) "One woman's fight to get David Dimbleby to correctly pronounce Dominica". The Guardian. 12 November 2014. Besoek op 3 Oktober 2023.
- ↑ (en) "Learn about Dominica". A Virtual Dominica. Besoek op 3 Oktober 2023.
- ↑ (en) David Whitley (29 Januarie 2016). "The 22 places you're probably pronouncing incorrectly". Stuff. Besoek op 3 Oktober 2023.
- ↑ (en) Dian Rolle (4 Mei 2021). "COMMENTARY: It's time for a new identity". Dominica News Online. Besoek op 3 Oktober 2023.
- Algemeen
- (en) "Dominica". Encyclopædia Britannica. Besoek op 12 Februarie 2025.
- (en) "Dominica". Central Intelligence Agency. Besoek op 12 Februarie 2025.
Wikimedia Commons bevat media in verband met Dominica. |
- (en) Toerisme-inligting oor Dominica op Wikivoyage
- (en) Amptelike webwerf van Dominica se regering