af.wikipedia.org

Trois-Rivières - Wikipedia

in Wikipedia, die vrye ensiklopedie

Trois-Rivières

Stad

Wapen van Trois-Rivières

Wapen

Trois-Rivières is in Quebec

Trois-Rivières

Trois-Rivières

Koördinate: 46°21′00″N 72°33′00″W / 46.35000°N 72.55000°W
LandVlag van Kanada Kanada
ProvinsieQuebec
Administratiewe streekMauricie
Stigting1634
Geïnkorporeer op1 Januarie 2002
Regering
 • BurgemeesterJean Lamarche
Oppervlak
 • Land288,92 km2 (111,55 vk. myl)
 • Stedelik176,92 km2 (68,31 vk. myl)
 • Metro1 041,15 km2 (401,99 vk. myl)
Hoogte61 m (200 ft)
Bevolking
 • Stad131 338
 • Digtheid437,2/km2 (1 132/vk. myl)
 • Stedelik121 666
 • Stedelike digtheid684,8/km2 (1 774/vk. myl)
 • Metro151 773
 • Metrodigtheid145,8/km2 (378/vk. myl)
TydsoneUTC-05:00 (EST)
 • SomertydUTC-04:00 (EDT)
Poskode

G8(T,V-W,Y-Z), G9(A-C)

Skakelkodes819
Webwerfv3r.net

Trois-Rivières is 'n nywerheidsentrum in die sogenaamde Cœur-du-Québec ("die Hart van Quebec") van die provinsie Quebec, Kanada, aan die noordoewer van die Sint-Laurensrivier en by die monding van die Saint-Mauricerivier. Die naam "Drie Riviere" gaan terug op die optiese illusie wat die mondingsgebied van die Saint-Mauricerivier gee en word sedert die einde van die sewentiende eeu gebruik. Die inwoners word dikwels "Trifluviens" genoem.

Trois-Rivières is ook die hoofstad van die historiese en moderne administratiewe streek Mauricie. Die huidige stad Trois-Rivières het in 2002 met die samesmelting van die stede Cap-de-la-Madeleine, Sainte-Marthe-du-Cap, Saint-Louis-de-France, Trois-Rivières-Ouest en Pointe-du-Lac met die oorspronklike Trois-Rivières ontstaan. Die metropolitaanse gebied het sowat 151 000 inwoners (2011), die stad self 131 000.

Dit is op een na die oudste stad in die provinsie wat reeds in 1634 gestig is en tot die belangrikste stad tussen Montreal en Quebecstad ontwikkel het. Trois-Rivières beskik oor 'n bekoorlike ou stadskern met talle geboue uit die 18de eeu. Die Manoir Boucher-de-Niverville is in 1729 vir die eerste Seigneur van die stad opgerig en huisves tans naas 'n inligtingskantoor vir toeriste 'n klein versameling Frans-Kanadese meubels uit die 18de eeu.

Die plaaslike Ursulieneklooster (Frans: Couvent des Ursulines) in die ou stadskern dateer uit die jaar 1697. Die Musée des Ursulines maak deel uit van die klooster en vertoon 'n versameling van historiese boeke, klere, skulpture en godsdienstige voorwerpe wat 'n goeie indruk van die landelike bevolking se religieusiteit gee. Die kloostertuin is 'n gewilde uitkykplek wat 'n pragtige uitsig oor die Sint-Laurensrivier bied.

Die koerantpapiervervaardiging en die ontginning van waterkrag by die Saint-Mauricerivier vorm die ekonomiese basis van die stad.